Management

Cindy Coetzee

South African Women's Agricultural Union

Gebore in Lydenburg en grootgeword in Middelburg waar ek steeds vandag woon. Ek het rekenaarprogramering studeer en is daarna getroud. Ek is ‘n trotse ouer van drie jong manne en my hoogste roeping in die lewe - om ouma te wees van twee pragtige kosbare klein dogtertjies. Ek het by VLU Meyersbrug tak aangesluit in 1999 as ‘n skamerige jong vrou met drie woelwaters en voltyds in ons eie besigheid gewerk. VLU het nie op haar laat wag nie en ek is verkies as sekretaresse en later as voorsitster van my tak. ‘n Paar jaar later verkies as Kosmosstreek se voorsitster. Ek het die Magrietjie tak gestig in 2017 en is lid van die jolige klomp leergierige dames. Ek hou van tuinmaak, bak en brou, lees en my kleindogtertjies te leer van inmaak, koekies bak en plante se name te leer. Rond ry is my lekkerste stokperdjie en om ons lieflike  land te verken. Alles wat ek vandag weet – het ek  by VLU of as gevolg van VLU geleer. As jy nou hier lees, het jy ook ‘n leergierige gees en  nooi ek jou om aan te sluit by jou naaste VLU tak. Jou lewe word verryk met kennis, vriendskappe en jou talente gaan beslis ontdek word.

Beverley Nathras

Federation Of Women's Institutes

I am a very positive person and love to help people. When I have offered to do something I always do it to the best of my capabilities, if I feel I cannot do it then I say sorry out of my league. People may not like it but I am straight to the point. I have been a member of FWI for ten years this time round and before that fifteen years. I was also a member of WI in New Zealand for a year. During this time I have been President, Treasurer, Creative Skills convenor for FWI, Group Executive, then FWI first Vice now FWI President. Lastly I am a survivor and have been in remission for the last twelve years now.

Alna Kapp

Vroue Landbou-Unie Mpumalanga

Die opdrag van ons SA President is: “Stel jouself voor sodat ons jou beter kan leer ken.”Sjoe, dit dwing mens tot stillstand as jy oor jouself begin dink. Skielik sien mens net al die goeie en mooi in jou lewe raak, besef ek dat die moeilike dinge wat ek al deurleef het, sommer vaag raak. My ma het aan die Vlu in Pretoria behoort dus, toe ek later in ‘n boerderygemeenskap introu met ‘n skoonma wat óók ‘n gesoute Vlu-vrou was, was die druk daar om ook aan te sluit. Ek het egter volstaan dat ek eers sou kinders grootmaak. Toe my oudste seun begin skoongaan, sluit ek op nege-en-twintig by Platrand Vlu-tak aan. So word Vlu ‘n leefwyse oor Twee-en-Dertigjaar. Ontdek ek talente en slyp ek saam met vriendinne vaardighede. In ons gemeenskap word die Vlu-dames hoog aangeslaan en vorm inderdaad die ruggraat wat die gemeenskap dien.  My man, Johan, het aan my die vryheid gegee en aangemoedig om alles wat Vlu bied te doen want hy kon sien dat dit my gelukkig maak. Vlu het ‘n belangrike balans aan my lewe gegee. Wanneer ek ‘n Vlu-dag gehad het, het ek  herlaaide energie gehad vir ons vyf kinders met hul uiteenlopende unieke geaardhede. Ons gesin wat nou almal getroudes is en sewe kleinkinders, is almal buitelugmense. Met die vryheid wat die plaaslewe bied speel ons nou-nog Krieket en Jukskei wanneer ons by mekaar kuier. Ons ry graag lang afstande met ons kwadfietse en sal maklik die honderd kilometer Vrede toe grondpadlangs aandurf. Hierdie het ‘n jaarlikse instelling in die buurt geword, ‘n hele paar gesinne neem deel aan die uitstappie. Ek het tot so tien jaar gelede die rit met my motorfiets aangepak, maar baie seer geval. My man het onmiddelik my motorfiets verkoop. My lewe in ‘n neutedop is geseënd, met gesonde balans. Die Vlu-pad wat ek nou stap is ‘n uitdaging waarna ek opgewonde uitsien. Ek is dankbaar vir die geleentheid om terug te ploeg in die organisasie waarvoor ek lief is. Hierdie is tyd om herinneringe te skep vir eendag …

Amelia van Rooyen

Namibiese Vroue Vereniging

Ek is op 11 Oktober 1964 in Springs gebore. Skool gegaan in Evander Hoër en Secunda, saam met die bekende verspring atleet Francois Fouché. Het netbal al van laerskool dae gespeel – in Graad 7 vir die ou Suid-oos Transvaal, van Graad 9 in die skool se eerste netbalspan, van graad 11 vir SA Skole. Het op die gewese RAU gestudeer – BA Komm Hon. Verder netbal gespeel tot op die hoogste vlak. Is getroud met Johan, ‘n chemiese ingenieur en Namibiër van geboorte, een seun Marnitz, ‘n CA tans woonagtig in Windhoek en getroud met Nicola ook ‘n CA en twee pragtige klein engeltjies, Liam, 4 jaar en Mila 18mnde, natuurlike hul ouma se oogappels. Ons bly op ‘n plaas in die Aroab distrik, Quellort maar is tans besig om hom te verkoop en ook oppad Windhoek toe. Gelukkig vir my man, het ons nog ‘n plaas in die Leonardville omgewing, so ek sal hom darem nie vermoor omdat hy heeldag onder my voete is nie. Ek is nou al 25 jaar in Namibië, en is ‘n volwaardiger Namibiër, nadat my man na sy geboorteland wou terug keer. Is al 20 jaar lid by Aroab NVV, was verskeie kere takvoorsitter asook Ametis Streeksvoorsitter. Wat beteken die NVV vir my? In my oë, is daar nie ‘n beter organisasie vir ons vroue van vandag nie. As vroue-organisasie is dit ons taak om alle vroue toe te rus om die eise wat ‘n veranderende wêreld aan hulle sal stel, te kan hanteer. Alle vroue het dieselfde behoeftes – ‘n veilige toekoms vir ons kinders en ‘n tuiste waarop ons trots kan wees en waar ons geborge voel. Ek voel dat wanneer ons samekomste verlaat, moet ons tevrede voel dat ons gegroei het, gegee en gelag het. Ek glo dan sal ons lidmaatskap ‘n lewenswyse word en nie ‘n luukse nie. Ek wil saam met die nuwe HB, taksvoorsitters, ons jong lede motiveer en op die voorgrond stoot – ter wille van hul eie ontwikkeling, maar ook ter wille van ons sekuriteit, sodat hulle ons oues nie sal omrol en uitgooi nie, maar ons sal respekteer vir ons waarde, ons wysheid en vir die sekuriteit wat ons aan die organisasie bied. Saam raak ons dan betrokke, dien ons die belange van die vrou en benut ons die wysheid en die jonges se energie om vroue op te hef. Ons moet ons energie versprei en ons land se behoeftes in die geheel aanspreek. Om te groei – een van my grootste doelwitte in my termyn, is net so belangrik as heropbou. Ons moet dus dit wat ons het instand hou, maar dit ook verder uitbou. Ek staan verstom dat soveel dames sê hulle is verveeld, aan niks wil deelneem nie en aan allerhande “syndrome” ly. Vir my bied die NVV geleenthede om te groei, te onwikkel, waar te neem en bo alles, Godgegewe talente te ontwikkel tot eie voordeel, die van my huis en my gemeeskap. Dit wil ek baie graag aan elke lid van die NVV toedeel, sodat ons as vrouens kan groei, en so ook ons pragtige land se vrouens kan ontwikkel tot selfbeskikking en ontwikkeling. Hiermee wil ek vir ons vorige president, Hermien van den Berg bedank vir haar positiewe lewensuitkyk, haar bereidwilligheid om altyd behulpsaam te wees, haar pragtige humorsin. Sy was geliefd by almal en haar plekkie op die HB sal nou leeg wees, maar ek weet ons kan enige tyd op haar knoppie druk. Ek het groot skoene om vol te staan, kan net my beste probeer, en ek weet my beste sal dalk nie in almal se smaak val nie, maar probeer gaan ek beslis probeer.

Leanda E Le Cornu

Vroue Landbou-Unie Noord

Hierdie is ʼn moeilike opdrag, aangesien ʼn vrou vele kant het en die lewe het ons ook al geleer dat almal nie by almal aanklank vind nie.

Gebore aan die voet van die Soutpansberg in ʼn klein dorpie ver in die noorde van Limpopo provinsie, Louis Trichardt. [Daar is mense wat wonder waar Louis Trichardt is en my verduideliking is altyd so 100km vanaf  die Zimbabwe-grens net voor Beitbrug]. My dorp lê my na aan my hart, so ook Laer- en Hoërskool Louis Trichardt waar ek skool gegaan het.

Getroud met John Le Cornu, wat my toelaat om my eie unieke menswees te leef. Vinita is ons dogter, is getroud met Ulrich Pelser en Pretoria-Oos is hul tuiste. Heinrich John Pelser is op 6 November 2025 gebore, wat ons die status van Oupa en Ouma gee.

Januarie 1995 sluit ek aan by VLU Hanglip-tak en so begin my VLU-reis. Hoekom het ek aangesluit by die VLU? “Ek wou my self help – my huis en my familie verryk met die kennis wat ek in VLU bekom.” Ek het die voorreg beleef om verskeie ampte te beklee en saam met verskeie VLU-mentors te dien op bestuur. Vanaf takvoorsitter, streeksekretaresse, provinsiale skakelbeampte, streekvoorsitter en VLU Noord-president. Kompetisies en beoordeling lê na aan die hart, aangesien dit VLU onderskei van ander organisasies. Ek het die voorreg beleef om twee keer betrokke te wees by SAVLU-beoordeling van kongresartikels.

Vanweë die feit dat ek graag rondloop, het VLU my toegang gegee toe die ou somerskole wat wonderlike geleenthede was om vriendskapsbande te vorm met dames in die susterorganisasies.  VLU se affiliasie by ACWW het my wêreld nog verder verryk deur my bywoning van die drie-jaarlikse  Area konferensie en ACWW-konferensies reg oor die wêreld. Hier het ek geleer dit maak nie saak waar ʼn vrou woon, wat haar kultuur is nie, die sake na aan ʼn vrou se hart is haar kinders en haar omgewing.

Waarom is VLU vir my belangrik? Dit gee vroue die geleentheid om te groei as mens, om te ontwikkel in vroue met selfvertroue, hul talente te ontdek en wonderlike vriendskapsbande te smee. Die grootste voorreg in die VLU is om te sien hoe ʼn vrou groei en blom. Vroue besef nie hul invloed op die wêreld om hulle nie. Vroue kan op hul unieke manier ʼn verskil in die wêreld maak.

Dis vir my as VLU-lid belangrik om altyd die belang van die VLU en mede VLU-lede altyd voorop te stel. 

Gerda Swart

Noordwes Vroue Landbou-Unie

Gerda Swart (nee Badenhorst), het groot geword as plaaskind in Coligny omgewing, getroud met Andries met  'n rykdom van 3 dogters, 2 skoonseuns en 4 kleinkinders.  Skoolloopbaan voltooi in Coligny en verdere studies in Pretoria. Ek en my man woon tans in Lichtenburg. Sluit in 1987 by Lichtenburg tak aan vir 2 jaar, 2002 sluit ek by Dorwo tak aan, dien 2 jaar as visevoorsitster, 5 jaar as takvoorsitster en 3 jaar tesouriere.  Op Streekvlak het ek 4 jaar gedien as tesouriere, 6 jaar as Sonneblom Streekvoorsitster en 4 jaar as Noordwes visepresidente. Ek hou baie van preservering, gebak, kunsvlyt, fotografie en blommerangskikking. Woon graag alle VLU- geleenthede by. Elke geleentheid word deur my beskou as 'n uitdaging waar jy jouself kan verryk met kennis. Is lief vir tuinmaak, seil, hekel, stap en doen Aqua-aërobiese oefeninge om fiks te bly. Ek en my man is lief vir die natuur, ons toer graag in die wildernis saam met geliefde vriende en familie. VLU is vir my 'n wonderlike leerskool, ek glo mens groei wanneer jy ervaring, talente en kennis met ander kan deel. Ek is dankbaar vir die voorreg om deel te kan wees van hierdie wonderlike organisasie.

Barbara Nell

Vroue Landbou-Unie Overvaal

Ek is ‘n Pretorianer in murg en been. Ek is in Pretoria gebore, het hier skoolgegaan en verwerf ‘n graad aan die Universiteit van Pretoria. Ek woon steeds in die pragtige Jakarandastad. Ek is getroud met ‘n wonderlike, geduldige man en het twee kinders wat my hart se punt is. Hoewel ek vir jare was jare betrokke was by volwasse onderrig met die fokus, op leierskap bedryf ek en my man saam ‘n staalkonstruksie besigheid. ‘n Boek hou vir my bekoring in en ek kan myself daarin verloor, ek geniet dit ook om kreatief wees want dit is goed vir my siel. Ons hou van kamp en geniet die Kruger Wildtuin. Mosambiek is my hartsplek en dit is waar ek op my gelukkigste is. Die VLU het begin as ‘n aktiwiteit wat ek saam met my ma kon doen. Hier is ek steeds 24 jaar later. Ek was vir 9 jaar Monumentpark-tak se takvoorsitter, ses jaar Jakarandastreek se Streekvoorsitter en vir 6 jaar VLU Overvaal se Visie-President. Die VLU as organisaie het soveel om vir vroue te bied. Dit is ‘n voorreg om deel te wees van hierdie verrykende organisasie.

Elsabè Kotzè

Vrystaat Vroue Landbou-Unie

Ek is gebore in die Vrystaat en bring my kinderjare deur in Bloemfontein en later in Namibië. Na matriek, studeer ek Voedseldiensbestuur aan die Technicon OVS. Ek is getroud met Bokkie Kotzè, ‘n boer in die Jagersfontein-distrik. Ons het drie pragtige seuns, wat vir ons baie kosbaar is. Ons oudste seun, WJ, is onlangs getroud en het ons ‘n liewe dogter, Esmari, ryker geword. Heinrich studeer tans by Kovsies en Riaan, ons jongste, is in Graad 9. My man en kinders deel my passie vir VVLU! ‘n Voorreg waarvoor is ek ongelooflik dankbaar is! Ek sluit in 2007 by Jagersfontein VLU aan, waar ek vir die afgelope 11 jaar die voorsitter is. Ek word in 2019 Area 10 se Uitvoerende Bestuurslid. Ek glo dat ‘n mens nooit te oud is om te leer nie! Ek het geleer dat VVLU nie net daar is vir vroue wat alles kan doen nie. Belangrike waardes wat ek in my jare by VVLU geleer het, is:

hou aan groei, want jy deel ervaring, kennis en talente met ander;ontdek jou talente en ontgin deur gebruik te maak van jou vaardighede, kreatiwiteit en kunstigheid;volhard tot jy wen, maar wees ook ‘n goeie verloorder; omring jou met ‘n groep positiewe vroue wat jou kan opbou en ondersteun;om met mense saam te werk, in moeilike tye saam te staan, mekaar en jou gemeenskap te dien;om ‘n verskil te maak in ander vroue se lewens.

VVLU het baie meer as net vriendinne op my pad gebring! Ek het die geleentheid gehad om my menswees en vrouwees uit te leef. Ek glo VVLU hét steeds ‘n plek in die hede en die toekoms. Alhoewel die internet jou baie kan leer, skep VVLU ‘n omgee-omgewing, waar ons die geheime en kortpaaie kan leer. Die herbekendstelling van VVLU aan vroue, veral jong vroue, glo ek is baie belangrik. Die voortbestaan van ons organisasie hang van my en van jou af. Positiwiteit is aansteeklik! Wees positief en opgewonde as jy oor VVLU praat en jy sal sien dat almal om jou, saam met jou positief sal wees.